Ek's mal oor my eie gedagtes. Baie. Ek dink dis die rede hoekom ek wil blog. Die dominie was nie veronderstel om te weet van my bloggery nie. (Dis nou my man) En let wel: nie Dominee nie, maar dominie. Dominee spel posisie , erkenning of geluk ons is trots op jou. Maar dominie sê iets heeltemal anders. 'n Heel bek is 'n stil bek of so iets. Maak soos ons sê. Tel jou woorde hiers die dominie. Steek weg die bier. Ens.
Terug by die begin. Dominie weet nou dat ek blog, want hy moes my help (met nodige ongeduld) om die blog te create. Ek is relatief gestremd met rekenaars. So ek neem aan dat hy homself op hoogte sal hou met wat ek hier kwytraak. En behoort insiggewind vir hom te wees aangesien hy my baie keer as onverstaanbaar ervaar. Seker waneer Anna F oorneem.
Anna F. My rêrige naam begin ook met 'n A en nooiensvan met F. En die F staan sommer ook vir alles wat ek soms voel maar nie mag sê agv dominie se posisie. Eintlik is Anna F vreeslik algemeen in blogwêreld vind ek toe uit. Toe nie so uniek soos ek gehoop het nie. En belangrike mense het daardie voorletters soos Anna Frank wat saam familie in Nazi tyd moes wegkruip in 'n solder van die huis. Miskien voel ek soos sy. Ons skynlewe is in hoofhuis, maar êrens op die solder kruip ek en dominie weg. Bang om ontdek te word.
Ek (soos in my blog se naam), bly in die hoofhuis. Die ma, die pastoriemoeder , die onderwyseres, die een wat raas (skree) oor slordige kamers, skottelgoed by die tv, kinders (soms)dreig oor hulle nie leer vir toetse , kerk toe wil gaan of tande borsel nie.
Ek soek so baie keer vir Anna. Sy het weggeraak tussen pastorie en kinders. Getrek. Verhuis. Want ek kry haar nêrens nie. Sy bly nie meer hier nie.
Dis al vir 'n eerste keer. Ek tik stadig en my man soek sy rekenaar. Ek sal nog 'n gepaste naam vir hom uitdink. Hy is soveel meer as dominie.