Ek was toe verkeerd. Jy lees wel my blog , ek dink nog steeds jy vind dit nie werklik interessant nie , maar nog steeds lees jy dit. En jy voel effens geaffronteer oor die wyse waarop ek jou uitbeeld . Ek het toe besluit om 'n inskrywing aan jou op te dra..
My liewe dogter ,
jy is nie so erg soos ek dit maak nie , net veel erger.
( kon die versoeking nie weerstaan, kom ons begin oor)
My liewe dogter ,
jy het ook goeie eienskappe
* jy lyk soos ek
* Jy het jou pa se brains
* Jy het mooi rooi hare
( Skuus ,kon myself nie keer , sal weer oor begin )
Hierdie is vir my enigste dogter,
jy wat so ontsettend anders is as ek , weet jy hoe bly ek was toe ek hoor jy is n dogter . Ek wou altyd gehad het my eerste kind moes 'n dogter wees. "Toevallig" gebore op my pa se verjaardag . ( nou dat ek daaraan dink , hy is nogal 'n moeilike man . Ek het altyd aangeneem jou streke is vanaf die skoonfamilie se kant. Kyk nou net daar )
En op 2 weke kon ons sien dat jy rooi donsies op jou kop het. 'n Voorspel tot die mooi rooi bos hare van vandag .Weet jy hoe geduldig ek met jou op en af geloop het daardie eerste agt weke van aandkoliek. Ek kon nooit as klein dogtertjie jou so ver kry om kamer aan die kant te maak. Jy het nooit met poppe gespeel , altyd speelgoed vir 'n ander speletjie gebruik as wat die vervaardiger dit bedoel het . Hoe jy gesê het ons moet jou boetie teuggee na sy geboorte , hoe jy elke keer bietjie verder moes terugstaan by die volgende aankomeling en die volgende . Ma is jammer .Ek is jammer dat ek nie tyd gemaak het vir die klein rooikopdogtertjie nie . Dat ek toegelaat het dat jy begin glo het die ander is belangriker as jy . Dat daar nooit genoeg tyd oor was om met jou ook te speel nie . Ek is regtig so jammer.
Jy't soveel waarvan ek baie hou . Jou humor as ons gaan stap en jy my die snaakse goed van skool vertel.Hoe jou musieksmaak my totaal kan veras en jy 'n mooi lied op die rekenaar vir my speel terwyl ek hier tik.
Jou sagte kant wanneer jy iets spesiaal vir die gesin doen.Die geregte wat jy in die kombuis optower.
Jy het so baie waarvoor ek bewondering het. Jou deursettingsvermoë in sport. Jou kreatiwiteit. Jou vermoë om slim aan te trek.
Jy het baie wat my opgewonde maak. Jou tekentalent. Jou besondere oog vir 'n goeie foto. Jou lewe wat oop voor jou lê.
Dit maak my opgewonde dat jy so totaal anders as ek is en heel waarskynlik jou lewe so totaal anders gaan aanpak.
Jy het so baie wat ek kosbaar in my hart bêre , waaraan die seuns nie deel. Hoe jy my kan troos as ek hartseer is en op jou unieke manier wys hoe lief jy vir my is. Hoe ons lekker kan saamlag vir iets wat net ons dink snaaks is .
Ek kan net hoop dat daar in jou hart ook 'n plek is wat net aan jou ma behoort en waar jy ook kosbaarhede van ons twee bêre.
Ek wil hê jy moet weet ek is baie lief vir jou. My enigste dogter.
een van haar skilderye..





