Vir die rede

Vir die rede

' Your friend is the one who knows all about you, and still likes you '

Monday, February 28, 2011

Twee Briewe

Liewe Elna

Dis nou bietjie meer as 'n week dat jy dood is. (Ek besef toe dat jy presies 'n maand na my pa oorlede is. ) 
Ek wil hê jy moet weet dat dit vir my niks lekker is nie . Ek sukkel om alles mooi te verwerk. Verlede week het ek in die aande gelê en wonder hoekom jy nie in 'n droom kan verskyn en iets met 'n mens kan deel nie. 
Is dit rêrig beter daar,  mis jy nie jou gesin , vra mens daar op die oomblik van oorgang of jy mag bly of vat die engel jou net  en eintlik weet ek jy het nou so 'n klein glimlaggie wat breër word soos ek voortborduur , jou oë stip op my en 'n gevoel van jy verstaan my en my alewige vrae en filosofieë.
Ek onthou skielik ek het vanmiddag doodmoeg op my bed gaan lê en toe wel van jou gedroom , maar kan niks verder onthou nie. Kom kuier weer asb?
Ek het baie vriendinne , maar weet jy , net 'n handjievol sien my hart. En elke keer wat ek in die Kaap by julle kon kuier, het jy my hart gesien en dis wat so sleg is,  jy is met te min van my weg. Te vinnig.
Ek sou graag nog wou byvoeg , nog herinneringe in die pakkie sit. Nog geselsies hê . Nog raad hoor oor my dogter , my man se beroep , gemeentelewe versus skuldgevoelens , jou kinders en hulle dinge , ons mans en hulle dinge , jou werk en wat jy nog wil bereik , wanneer gaan jy weer oorsee by jou sussie kuier.
Ag Elna , ek het nog nie klaar gekuier nie man. Ons kon nog vinnig dorp toe gesirtz het om iets lekkers te koop om te eet of onthou jy daai kersfees toe jy die lekkerste roomyse van julle roomysvriend in die vrieskas gehad het. Dit was nou bederf. Hoe jy ekstra Kersfeeshoedjies gaan koop het sodat elkeen een kan hê. 
Die keer toe Brian en Murna ook daar gekuier het en ons daai duisende pizzas gekoop het.  Die sit en kuier op julle dek met die son wat oor Melkbosstrand ondergaan. Die kuier wat sy lekker warm vingers oor ons groepie sprei ...Die lekkerste koffie wat jy met soveel liefde vir jou skoonpa gemaak het. Marthinus wat langbeen op die muurtjie sit en ek dink dis hoe ek daarvan hou. Ons sommer net so saam. Geen pretensies . Hoe jy lank terug vir my vertel het dat jy opgehou het om grys hare uit te pluk en kleur nou maar. Hoe jy dit kon regkry om altyd mooi en sexy te lyk. En al het jy my drie / vier jaar laas gesien en ek soveel onooglike vetjies aangepak het dat ek eintlik skaam was in jou teenwoordigheid was jou glimlag opreg en het jy my raakgesien en nie die ekstras nie. Ek wil jou nog vertel het van my blog en ek is seker jy sou gelag het vir al my dingetjies en dit verstaan het. 
Hoeveel sou ek nog wou. En nou is dit verby. Dankie vir alles. Dat jy my ook vertrou het met stukkies van jou hart. 
Hiermee moet ek dan vir oulaas afsluit en al wil ek nie ek sal jou moet laat gaan my vriendin. Ek glo jy sien iets daar wat ongelooflik is. 


En as ek mag vra .. as ek moet doodgaan voor my ma of my man , sal jy asb die een wees wat my kom haal?


Altyd 'n vriendin,


Annelie



en ek is seker sy sou vir my terugskryf..






Annelie, 

Ja jy is reg , ek glimlag terwyl ek hier lees.. Ek wil graag hê dat jy moet weet dat vir jou is hierdie prentjie dof en verstaan jy nie hoekom nie , maar ek kan sien dat alles perfek is ! Glo dit en leef dit. Hou aan om jou hart te deel met die wat aan jou gewys word. Hulle word ook so ryker want my liewe vriendin jy het ook baie om te bied. Geniet jou familie , hulle elkeen se uniekheid en verskille. Moenie vergeet om jou hart ook met hulle te deel nie..Geniet elke dag , gooi die lewe se swaarmoedigheid weg en leef voluit! Dankie dat julle vir my lief was , ek was vir julle ook.. 

Elna , 
maar hier in die hemel het ek 'n ander naam.. Oorwinnaar !  (En 'n vreeslike mooi kroon..)