Hier sit ek voor die rekenaar, vir die eerste keer in lang ruk lus om bestekopname te neem. Dominie se liggaam is gevoed met lekker kossies na hy teruggekeer het van n vermoeiende kursus in stad. Een van daardie kursusse wat dominees moet bywoon om punte bymekaar te maak om glo 'n dominie te kan bly. Deesdae is daar so iets in die kerk. Die kursus het al die dominees op 'n innerlike reis geneem. Iets wat baie vermoeiend kan wees vir hulle aangesien hulle meestal net toeskouers is van ander se innerlike reise. Maar met die nodige respekte aan my eie dominie ; hy het dit geniet en het vir hom baie beteken. Nou moet hy nog net 'n werkstuk ook uitwerk om nog meer punte te kan kry. So verseker sal hy volgende jaar nog dominie wees. Nie dat dit nou eintlik 'n Nuwejaarswens van die pastorie is nie. Ons tweetjies droom eintlik oor 'n lewe ver weg van pastorie. Iets soos om groente te pak in die Middelande , of 'n lewe uitkalwe in Amerika , of langs my suster in Ierland te gaan bly. Dis nou as ons vergeet dat ons vier kinders het wat ook moet lewe. Net enigiets anders as om ds en mevrou te wees. Sorrie, dit klink ondankbaar.
Intussen het die twee jongstes my innerlike vrede versteur met 'n gestoei rondom my. Gaan ek regtig eendag as almal uit die huis is hierna terugverlang? Hulle sê so. Ek wil waag om te verskil , want DAN gaan ek en dominie ons tasse pak en efof.
Verder voel dit of ek as moeder net (stront) aanjaag. My dogter het haar laaste Valentynsbal ophande vir haar skoolloopbaan en wil nie haar rok aanpas wat ek nog moet verstel nie want ek het gesê sy is dalk te vet vir die rok. Hoe aaklig kan 'n ma wees. Sorrie my kind , ek dink ek was net moeg. Sorrie hoor?
Wat die seuns aanbetref , dis nou rugby en nogmaals rugby. Die seisoen is ophande. Posisies moet bepaal word en elkeen het sy vaste voorkeure.. Of die afrigters gaan saamstem is 'n ander saak.
En dan weet ek ek wil nog iets skryf oor my pa wat dood is. Maar die gedagtes sukkel om te vorm en die woorde ontwyk my nog..