Vir die rede

Vir die rede

' Your friend is the one who knows all about you, and still likes you '

Wednesday, December 29, 2010

Goedvoeltye in Kerstyd

Is mens veronderstel om na die Kerstyd terug te sit en te dink dit was nou goed . Jy voel wraggies goed. Dit was goed om jou eie gesin om jou te hê , goed om vir 'n slag lekker die hele familie saam te wees. Ouma , oupa , vier van die vyf kinders , meeste van die kleinkinders, lekker kossies , man dit was mos nou goed. Goeie tye.
Dis net , ek voel nie goed nie. Ek voel teleurgesteld . Asof die fees van die feesseisoen my verbygegaan het.


Ek wat as kind so opgewonde kon raak oor kersfees , kersbome en liggies , ek was traag om die jaar die boom uit te haal. My jongste het later self die taak aangepak. Miskien volg die feesseisoene te skrikwekkend vinnig opmekaar. Die druk om te voldoen aan verwagtinge te veel. My varkboud wat ek saamgeneem het familie toe het gebrand en was nie heeltemal gaar , my geld te min om vir die kinders hulle hartewens waar te maak , my bediende op vakansie en niemand in ons huis is geseën met buitengewone gawe van fluksheid nie , die winkels heeltemal te besig , neefs en niggies te vreemd vir mekaar , die kos te veel en dan het ons nog gevrek van die hitte.
Ek dink ek jaag die verkeerde fees na.
My fees moet wees in klein dingetjies wat vir my spesiaal was. Ons (pastorie)gesin wat Oukersaand saam kon wees . Ja , al dryf die kinders ons teen die mure uit en ek en dominie by tye mekaar. Al baklei ons ook soms dat die hare waai. Selfs midde die feesseisoen . Al vind die 'vrede op aarde ' nie altyd sy besleg in die pastorie nie . Ons word vir mekaar geleen . Watter beter tyd as die Kerstyd om dit te waardeer .
My broer wat die volgende dag, daar onder die bome by my pa buk , sy skoene vir hom uittrek en sy geswelde voete saggies in sy slippers druk. Die sorgsaamheid waarmee die kinders my pa, wat lankal nie meer mooi sien, begelei waar hy moet wees. My ma se ekstra druk toe sy die volgende oggend groet. Die kombinasie van al die lekker kos wat uit alle windrigtings daar aangekom het . Die lekkerte van lekker eet. My skoonsuster se super skoon huis , veral gesien in die lig van die nes wat ek tuis agter gelaat het. Die gevoel van behoort. Ek hoort hier. In hierdie familie waar ons eintlik so verskillend is. Dit maak my gelukkig. Vul my met dankbaarheid. Laat my beker oorloop van geluk.
Dis nou feestelike gedagtes! 'n Geseënde tyd vir almal daar buite.

NS. Die foto is ons kersboom wat my op die ou end baie vreugde gegee het om na te kyk. Ek en die seuns het selfs saans in die kar geklim en by ons eie huis verby gery om die liggies te bewonder..