Sy het deur die reën tot by my gestap. Haar arms om my gesit en my styf vasgedruk.Asof die vertroostende aanraking van iemand anders die pyn sal wegvat. Haar oë nog vol van die oggend se skielike seer. En ek wonder oor die gang van lewe , oor reg en verkeerd , oor keuses. Oor hierdie mooi vrou voor my uit haar huis gejaag word deur haar man. Oor die seer van haar kind wat toe nooit kind van sy hart geword het nie. Oor die genade van mense wat omgee. Genoeg omgee om saam haar te ry en haar bestaan van 5 kort maande in iemand anders se lewe te gaan laai en terug te bring. Familie wat genoeg omgee om die skielike terugkeer draaglik te maak met daarwees. Oor heelword waneer stukkend wees nog nooit weg was nie. Oor woorde wat soms wegraak en stiltes sy eie troos bring.
Oor ek wil glo dat daar 'n God was wat vandag daar in die reën saam haar gestaan het en haar styf teen Sy bors gedruk het.