Vir die rede

Vir die rede

' Your friend is the one who knows all about you, and still likes you '

Saturday, March 12, 2011

( Koorsige ) Argus momente



Argustyd in ons huis is PIEK TYD. Alles bereik 'n piek. En die oploop na die piek begin lank voor piektyd.


Eers is daar die inskrywingsdag(nag). Was altyd 1ste Sept of Okt ? En een jaar, of was dit dalk meer as een keer, het dominie twaalfuur die nag slaggereed voor die rekenaar gesit en wag om in te skryf, anders is daar glo nie meer plek oor.
Deesdae, as gevolg van die baie Argusse wat dominie agter die blad(wiel) het , is daar outomaties plek vir hom. Na die GROOT STAP en hy veilig ingeskryf is, begin die opbou na 'n OEFENPROGRAM. En dit kan nogal lank neem , hierdie OPBOU . Eers word daar net verwys na oefen en die fiets word so uit die hoek van die oog beloer. Nie te veel of te gereeld nie. Die balans is nogal belangrik. Dan breek November aan  en die woord OEFEN kom meer dikwels in gesprekke na vore. Daarna Desember en fyn nuanses van paniek kan in dominie se stem opgetel word. Enige vakansieplanne hetsy in die Kaap , by sy Moeder in P of skoonmoeder in O, DIE FIETS  is deel daarvan. Met groot moeite word daar plek gemaak vir DIE FIETS  want DEFNITIEF sal daar geoefen MOET word!
Vir die res van Desember sluit ek nou my lippe en hou my vingers stil.
Met die aanbreek van Januarie is daar nou geen wegkomkans nie en dominie begin SY OEFENPROGRAM in alle erns. En verwens homself na elke rit dat hy toe nie van die EKSTRA GEWIG ontslae geraak het nie. En belowe homself dat hy die volgende jaar met 20 minder kilo's gaan begin oefen.. Famous last words. ( Maar daarmee het ek innige simpatie , want sukkel die meeste van ons nie maar nie.. )
En dan heelaas loop dinge redelik op geoliede wiele. Daar word geoefen. Dis nou te sê as daar geen pap bande , kettings wat aanhou afval of waterbottels wat voete gekry het nie , is. En hy oefen meestal alleen , want hy hou nie van vroeg opstaan of saam werkersklas-fietsrygroepe ry nie. Ek dink dit het iets te doen met die gevoel dat hulle dalk moontlik ver fikser as hy is. Wat hulle gewoonlik is.
Teen die laaste oefenrit , net voor die fiets gelaai moet word vir lang pad Kaap toe , slaak ek 'n HELSE sug van verligting.
Nou lê die GROOT INPAK voor. En oor my man se (on)vermoë om in te pak kan ek 'n hele bloginskrywing wei. En soos hierdie jaar, toe dominie midde hierdie chaos van inpak is , bel iemand wat wil weet of sy 'n draai kan kom maak , want dominie moet asseblief tog NOU vir haar bid in haar moeilike tyd. Red nou 'n pastorie. Maar ten einde laaste is die VERTREK op hande en groet ons met die wens dat hy dit sal geniet en suksesvol nog 'n Argus agter die wiel sal sit.
En wanneer dominie WEG is , is MEVROU baas. Ons eet uit , gaan stad toe vir n outing . Lekker fliek ens. Ons pak die kar en gaan kuier vir my ma. Ek gaan slaap voor donker en die kinders hou open parties in die lapa. En ons gaan nie kerk toe nie.
Toe nou nie.. Behalwe die kerk deel.
Ek sukkel om by te hou met brood en melk wat nog te sê van uiteet. Ons het elke dag 'n outing skool toe en fliek (soms) voor die TV. Van vroeg slaap is daar min sprake want Argus val deesdae binne 'n toetsreeks en tussen gr 4 wat nou eers begin kennis maak met wrede wêreld van toetse en die gr 7 wat sukkel om te onthou van 'n toets , wat nog te sê van genoeg aandag oor om actually te leer daarvoor ( en dit vind ons gewoonlik na 8 eers uit ),  is vroeg slaap 'n luukse.
Vandag moet ek egter erken en bely ; ek het al baie die seerkry in my dominie se oë gesien as ek vir almal wat wil hoor uitbasuin dat Argustyd die aanbreek van my jaarlikse verlof is.. Dis nie rêrig meer so nie. Die huis is stil sonder sy kwota lewe wat hy inblaas. Die kinders mis die gerusstelling van pa in die huis en ek slaap saans nie meer so lekker..
So liewe dominie , al skryf ek hierdie met 'n tong in die kies en 'n lag in my mou , ons is TROTS op jou wat elke jaar so kan vasbyt en nog 'n Argus voltooi! Ons gun jou die lekkerte van die Kaap en lekker kuier saam vriende en ons wag tuis vir jou! ( en die persentjies wat jy mos nie sal vergeet nie..?)

En net om die rekord reg te stel ; dominie het sy dominiejassie aangetrek en vir 'n uur of langer met die vrou gepraat en gebid en na sy weg was geweet dat dit toe nie nodig was om 'n ander jassie aan te trek nie , soms gebruik die Here jou net soos jy is. Ook binne koorsige Argusmomente.