Nou ja , waar was ons laaste. Die better deel van my man se beroep(roeping). Daar is, soos in enige ander werk, ook goeie en lekker dinge in die wêreld van die dominies. Soms vir my , soms vir hom , soms vir die gesin. Erens vind iemand baat in die lewe van 'n pastorie.
Nou ja, kom ons begin.
Hoekom sukkel ek so. Diep dink Anna . Diep dink.
Dis lekker in die pastorie want :
- ons kry soms 'n gratis koek as die dominie verjaar. Dis nou 'n ander tannie wat nog nie gepla is deur dominie en mevrou se gewig nie
- die roomyskombi het al vir al ons kinders 'n gratis roomys gegee. Maar dit was wraggies lank gelede. Jare terug eintlik
- Soms na die oumense funksie of die bybelstudieafsluiting word daar 'n bordjie eetgoed na die pastorie gestuur
- Ons het al gratis vleis by een van die slagters gekry. Maar hy het intussen ons gemeente vir 'n ander verruil. So die vleis ding het ook lanklaas gebeur
- ( alles draai tot dusver rondom kos- moet iets met soeke na troos wees )
- die dominie kan vir sy vrou op koue dae lekker Wimpy koffie skool toe bring . Niemand kom mos agter dat hy nie op 'kantoor' is nie
- dominies kan ook siek kinders by skool gaan haal , hy kan iets wat vergete by huis agtergebly het gou skool toe vat. Soos mamma se kospakkie
- dominies kan laat slaap terwyl die werkersklas vroeg moet roer
- dominies kan 'n hele oggend (of dag) n krieket match kyk sonder dat iemand hoef te weet
- dominies kan kinders se sport bywoon sonder om verlof in te sit of skelm weg te loop vanaf die kantoor
- mevrou kan wegloop by die werk en as sy vir dominie by die huis kry 'n vinnige enetjie inwerk/bywerk
- mevrou kan soms mooi vra vir die oom by die kerk dan kom doen hulle 'n paar verbeteringe aan die pastorie
- soms word ons uitgenooi as eregaste na funksies. Maar ek sal jok as ek sê dat dit lekker is
- sakelui is soms vriendeliker met jou as hulle hoor jy stam uit die pastorie. Ek weet nie eintlik hoekom nie. Geld het ons defnitief nie om te spandeer nie
- my kinders help ( uit vrye wil ) gewoonlik na nagmaal die kelkies opruim en drink dan sommer die glasies wat nog iets in het leeg. Is dit 'n voordeel?
- ons kry 'n toelaag vir Thapelo wat help in die tuin. Dis defnitief 'n voordeel , want ons ou klompie is maar lui
- dis ( soms, letwel soms ) lekker om langs die kerk te bly. Dan kan ek op die laaste minuut Sondagoggende by die kerk insluip en in die aande American Idols amper klaarkyk voor ek blitsig oorstap vir my duties . Of tydens die diens gou die oond af ( of aan ) gaan sit
- en dan is daar mense wat wragtig lief is vir ons ou gesinnetjie. Dit moet die engele wees wat op aarde geplaas is. Gewone mense kan dit nie wees
- en daar is iets helend om siek mense in hospitale te besoek. Ek dink omdat n siek of sterwende mens nie meer tyd / lus /krag het vir str*nt nie. As dominie nog kan kom bid op 'n kritieke tyd worrie jy nie meer oor likes of dislikes nie. Dan is dominie die direkte lyn hoër op
- dominies hou baie daarvan om mense te trou of babas te doop. Ek weet kleindoop is deesdae nie meer vreeslik in nie, maar dit bly vir hulle lekker
- my dominie geniet sy bybelstudie met die ou tannies baie. En daar moet ek darem sê , hy is uitstekend. Bedoelende met die bybelstudie
- en vir 'n dominie ken myne darem 'n paar oulike grappies. Hier is darem mense wat nie skaam is om 'n goeie grap te deel
- en as ek mag uitpraat , my dominie ken nogal sy Bybel goed. Veral Hooglied