Vir die rede

Vir die rede

' Your friend is the one who knows all about you, and still likes you '

Saturday, April 2, 2011

Home sweet home

Niks , hoor my as ek sê, niks maar niks , kom by jou ma se huis nie. As ek daar stop is sy gereed om die glasdeur oop te sluit en my ingenome binne te nooi. Haar kossies wat sy  maak. Lekker ou gewone kookkossies . Ma se koppie tee wat sy so spesiaal vir jou maak , ma se melktert , want niemand maak soos my ma 'n melktert nie. Die rustige sit saam ma voor die TV, oor en oor kyk ons Sky News se Breaking News terwyl ma aangaan met haar breiwerkies. Die sekuriteit wat ek daaruit put om net weer bietjie by die huis te wees. En die vakansie daar sonder kind of kraai kon ek diep drink uit die fontein van ma se kind wees. Ons gesels oor my pa wat amper drie maande dood is en hoe sy dink hy was nou lank genoeg weg en kan maar gerus weer bietjie terugkom. Sy mis hom. Daar waar hy altyd saam haar gesit en sport kyk het. Of vroegoggend in die kombuis met sy bekertjie koffie en broodjie.
Ek staan soggens op,  trek die gordyne wyd oop en kyk na die tuin. Ek neem foto's met my selfoon om iets saam my te vat van hierdie gevoel van huis. Iets wat my dalk kan skans teen die ander lewe.
Want dis anders by ma se huis as by die pastorie.
Hier kan ek my kop  toetrek, inskulp diep binne myself waar niemand my raaksien ,  soos 'n ongebore  kind wat nog beskerm word binne sy ma. Nie soos in wêreld van pastorie waar jy kaal staan vir almal en hulle kan sê wat hulle wil en jou doen oop vir almal is om te sien nie. Van hoeveel warm water ons gebruik tot wie ons almal gebel het. Uitgelewer aan kerk en sy mense. Uitgelewer aan die goedkeuring van ander. Nie soos by ma se huis waar ek net aanvaar word , net sommer oor ek haar  kind is. Sy hou klaar van my, ek hoef nie te wonder of ek genoeg doen sodat mense my as 'n aanwins vir dominie of vir die kerk beskou nie. ( wat ek by the way , nie dink ek is. Die aanwins deel. )
En êrens in die drie dae wat ek daar was noem my 80 jarige ma dat sy nie dink sy veel langer as 5 jaar nog met ons sal wees nie.
En weet julle wat. Ek weier om nou verder daaraan te dink.